Post Header
'n Algemene versoek wat ons kort-kort ontvang is om vir gebruikers die vermoë te gee om te verhoed dat sekere ander Archive of Our Own – AO3 (Argief van Ons Eie) gebruikers met hulle kan kommunikeer, of om vir hulle die vermoë te gee om inhoud van sekere gebruikers te versteek. Dit is iets wat ons al 'n geruime tyd beplan en ons werk die afgelope paar maande aktief daaraan. Om hierdie rede wil ons u laat weet waar ons met hierdie taak staan:
Blok vs. Demp
Ons werk die afgelope tyd nou saam met die Ondersteunings- en die Beleidsmisbruik-komitees. Hulle is in kontak met ons gebruikers en kan ons dus help om al die terugvoer, funksieversoeke en voorstelle wat ons ontvang te ondersoek. Dit help ons om vas te stel hoe ons die meeste van ons gebruikers se wense kan bevredig – om hul AO3-ervaring veiliger en aangenamer te maak – sonder om in die proses nuwe probleme te skep.
Na 'n lang besprekingsproses het ons besluit om die nuwe funksionaliteit as twee stelle afsonderlike funksies te beskou:
- Blok: om te verseker dat sekere gebruikers nie met u kan kommunikeer nie
- Demp: die uitsluiting van inhoud deur sekere gebruikers van u persoonlike argief-ervaring
Op hierdie manier kan ons gebruikers 'n aantal opsies gee om hul eie ervarings saam te stel en 'n laag beskerming teen teistering by te voeg sonder om dit moeiliker te maak vir mense om inhoud op die AO3 te skep en daarop te reageer. U mag dalk 'n sekere gebruiker wil demp omdat hulle baie fanwerke plaas vir 'n paring waarvan u nie hou nie, terwyl u nie omgee indien dieselfde gebruiker op u werke kommentaar lewer nie. Deur die twee konsepte van mekaar te skei sal ons ook aanvanklik ’n gefokusde groep opsies kan ontplooi terwyl ons agter die skerms aan die res van die funksies werk.
Daar is egter baie dinge wat oorweeg moet word voordat ons die finale ontwerp-dokument kan opskryf wat uiteensit hoe ons wil hê hierdie funksies moet werk en hoe dit met die bestaande AO3-funksionaliteit sal reageer. Weens die omvang van die verandering het albei hierdie funksies hul eie uitdagings en slaggate wat aangespreek moet word voor ons kan voortgaan.
Tientalle kleinighede moet aangespreek word, soos: "As 'n lys met soekresultate gedempte inhoud bevat, moet die syfer wat bo op die blad verskyn aangepas word? Hoe beïnvloed dit dan die syfers in die filters?" asook groter-prentjie oorwegings soos: "Wat as 'n uitdaging verskeie modereerders het, elk met hul eie lyste van rekeninge wat geblok en gedemp is?"
Sodra ons die kode begin skryf kan ons tegniese probleme ondervind wat nie tydens die beplanningsfase sigbaar was nie en wat aansienlike veranderinge aan ons planne kan vereis. Dus sal ons slegs gereed wees om hierdie funksies aan te kondig wanneer ons seker is dat beide funksies baie naby aan klaar is, iets wat ons weet frustrerend is vir diegene wat op hierdie nuwe funksies wag.
Geld vs. Tyd
Alhoewel die OTW (Organisasie vir Transformerende Werke) genoeg geld het om moontlik 'n kontrakteur te kry om die kodering te doen (danksy u skenkings!) moet ons hulle eers in fyn detail vertel wat ons eintlik wil hê sodat dit op 'n effektiewe manier gedoen kan word. Ons is meer vertroud met die webwerf se ingewikkelde funksies, soos versamelings en uitdagings, en ons het 'n beter idee van die manier waarop mense die webwerf gebruik en die probleme waarin hulle vasloop.
Dit is baie keer die mees ingewikkelde deel van 'n projek van hierdie grootte, en is nie iets wat ons maklik kan uitkontrakteer sonder om die risiko te loop van 'n finale resultaat wat meer probleme sal veroorsaak as wat dit oplos nie.
Boonop is die mense wat by hierdie gesprek betrokke moet wees (omdat hulle baie kennis oor die innerlike werking van die AO3 en die terugvoer wat deur die jare deur gebruikers gegee is, het) dieselfde mense wat nodig is om die AO3 daagliks aan die gang te hou. Hulle maak foute reg, maak seker dat die agtergrondprogram op datum bly en hou die Ondersteuning- en Beleidsmisbruik-komitees aan die gang.
Dit word alles deur vrywilligers gedoen, en soms moet ander verpligtinge eerste kom om die webwerf funksioneel te hou. As gevolg hiervan vat die ontplooiing van groot- of selfs mediumgrootte projekte 'n lang tyd om van die aanvanklike idee tot by die implementering van 'n nuwe funksie te beweeg.
Intussen...
Dit gaan nog 'n ruk vat voor ingeboude, toeganklike blok en demp hulpmiddels beskikbaar is, maar daar is wel tans op ons Nie-Amptelike Blaaier Hulpmiddels FAQ/AV 'n lys derdepartyskripsies wat ongewenste inhoud kan filter. Ons werk ook tans aan ander belangrike veranderinge wat vir u meer beheer oor u AO3-ervaring sal gee.
Ons het die afgelope jaar vir gebruikers die vermoë gegee om kommentaar op hul werke af te skakel of om sekere kommentaar-drade te vries. Iets wat ons tans ook aan werk is om vir u die opsie te gee om te kies of u versameling uitnodigings of geskenke wil ontvang, net soos wat u kan beheer of ander gebruikers u as 'n mede-skepper op werke kan lys. (Soos altyd, sal daar toegewyde nuusberigte met meer inligting oor hierdie veranderinge uitkom sodra dit gereed is om vrygestel te word.)
Alhoewel dit nog altyd moontlik was om die AO3-voorkomsvelstelsel te gebruik om spesifieke werke vir uself te versteek, het ons dit onlangs ook moontlik gemaak om alle werke van spesifieke skeppers te versteek. Om dit te doen, skep 'n voorkomsvel en gebruik hierdie CSS:
-
.work-000 { display: none !important; }om 'n spesifieke werk te versteek. Vervang000met die ID van die werk wat u wil versteek. Die werk ID is a reeks nommers wat in 'n werk se URL te vind is. Vind die ID reg na/works/, bv.https://ao3.org/works/000/chapters/123. -
.user-000 { display: none !important; }om alle werk deur 'n spesifieke gebruiker weg te steek. Vervang000met die ID van die gebruiker wie se werk u wil versteek. 'n Gebruiker se ID is 'n reeks nommers wat op hul profiel gevind kan word in die "My user ID is" ("My gebruikers-ID is") afdeling. Die gebruiker se ID bly dieselfde al verander hulle hul naam.
Om verskeie items te versteek kan u die keurders met 'n komma skei: .work-000, .work-149319, .user-000 { display: none !important; }
Tans is hierdie benadering slegs van toepassing op werklyste en werk-soekresultate, nie op boekmerke nie. Ons werk egter daaraan om dit ook na boekmerke toe uit te brei, en ons sal 'n meer gedetailleerde handleiding hê sodra ons klaar is. (Let daarop dat as u voorheen werke met keurders soos .blurb#work_000 versteek het, sal dit aanhou werk, maar dit sal in die toekoms nie outomaties oorgedra word na boekmerklyste en soekresultate nie.)
Ons is regtig jammer dat dit ons langer neem as wat verwag is, en ons hoop dat hierdie kort verduideliking 'n bietjie insig kan gee oor die redes hiervoor.
Wees asseblief geduldig met ons terwyl ons die besonderhede uitsorteer, en dankie vir al u vriendelike woorde hier en elders, veral gedurende die afgelope jaar. Ons kan nie alle tweets en kommentaar beantwoord nie, maar ons waardeer werklik u ondersteuning!
