Post Header
Die OTW (Organisasie vir Transformerende Werke) word sedert sy stigting in 2007 vir fans, deur fans bestuur. Ons is oorweldig deur die steeds groeiende belangstelling en ondersteuning vir ons projekte van fans van verskillende generasies regoor die wêreld. Ons is uiters dankbaar vir die finansiële ondersteuning van OTW-lede en skenkers, wat ons gehelp het om 'n finansiële reserwe op te bou terwyl ons ook die deurlopende uitgawes van ons projekte dek. Hierdie fondse, sowel as jul vrywilligheid en ondersteuning, is noodsaaklik wanneer een van ons projekte probleme ondervind, soos die stilstand en traagheid wat die Archive of Our Own - AO3 (Argief van Ons Eie) die afgelope paar maande ervaar het. Ons het stappe geneem om hierdie probleme op te los en bly dankbaar vir jul ondersteuning en geduld gedurende hierdie tydperk.
Terwyl ons vrywilligers hard aan die werk was om AO3 stabiel te hou, het hierdie tydperk weereens die krag en veerkragtigheid van fans bewys. Danksy jul donasies en volgehoue ondersteuning kon ons aanhou om die AO3 en ons ander projekte as niewinsgewende projekte te bestuur wat deur ons vrywilligers gedryf word. Met dit in gedagte wil ons jou graag aanmoedig om te skenk en lid te word tydens ons eerste lidmaatskapwerwing vanjaar!
Soos gewoonlik het ons verskeie skenkingsgeskenke voorberei:
Wil jy jou liefde vir AO3 wys terwyl jy weg van die huis is? Vir 'n skenking van VS$100, kan jy 'n stukkie fandom in jou sak dra en jou fannish notas vaslê en in 'n splinternuwe 5.5"×7.5" (14 cm x 19 cm) AO3-notaboek!
Deur VS$45 te skenk, kan jy 'n keuse uit ons plakkervoorraad ontvang (wees voorbereid op 'n verrassing)!
Jy kan ook 'n lid van die OTW word deur VS$10 of meer te skenk. Om 'n lid van OTW te wees is nie dieselfde as om 'n AO3-rekening te hê nie—OTW-lede kan in die jaarlikse OTW-raadsverkiesings stem en hul inligting is nie gekoppel aan hul rekeninge op AO3, Fanlore of enige van ons ander projekte nie.
Jy kan ook 'n herhalende donasie opstel en spaar vir die geskenk van jou keuse. Sodra jy 'n geskenk gekies het, kan jou toekomstige skenkings by die totaal gevoeg word, selfs al is jou huidige skenkingsbedrag nie voldoende nie. Diegene van julle wat in die VSA woon kan ook hulle bydrae verdubbel via bypassende werkgewersbydrae-programme: kontak jou menslikehulpbronafdeling om uit te vind of dit 'n opsie is.
Nuuskierig oor hoe skenkings bestee word? Besoek ons vorige begroting bloginskrywings of jaarverslae om meer uit te vind. As jy verdere vrae oor skenkings en lidmaatskap het, kan jy ons Algemene Vrae besoek of die Ontwikkeling en Lidmaatskapkomitee kontak.
Terwyl ons lede en hul skenkings noodsaaklik is om ons projekte soos Fanlore, Open Doors (Oop Deure), Legal Advocacy (Regsvoorspraak) en Transformative Works and Cultures - TWC (Transformerende Werke en Kultuur) aan die gang te hou, hoef jy nie sleg te voel as jy nie finansieel kan bydra nie! Ons waardeer die eindelose ondersteuning en betrokkenheid van hierdie gemeenskap: of dit nou is deur werke op AO3 te plaas of kommentaar te lewer op ander fans se werke, redigeerwerk te doen op Fanlore, of om uit te reik na Oop Deure oor fanfiksie-argiewe wat in gevaar is. Jy kan ook meer uitvind oor hoe om betrokke te raak by ons projekte op ons Vrywilligerswerkbladsy.
Die OTW (Organisasie vir Transformerende Werke) is die nie-winsgewende ouer-organisasie van verskeie projekte, insluitend AO3, Fanlore, Oop Deure, TWC, en OTW Regsvoorspraak. Ons is 'n fan-bestuurde, volledig donasie-afhanklike organisasie beman deur vrywilligers. Vir meer inligting, besoek gerus die OTW webtuiste. Om meer te leer oor ons span van vrywillige vertalers, wat hierdie nuusberig vertaal het, besoek die Vertalingsblad.
