Chapter Text
Die skril gelui van my selfoon bars by my ore in en ontplof binne-in my slapende brein. Liewe donner.
“Hier kom die sirkus!” sou my ma, Rina, nou laggend gesê het as sy my polyphonic ringtone hoor. Sy irriteer my soms, maar sy bedoel net die beste.
Ek is nie nou al reg vir geselskap nie. Ek druk die kussing oor my kop. Dit doof die skerp frekwensies effens uit. Ek wil nog slaap, verdomp.
Met ‘n sug gryp ek maar my selfoon wat ek elke aand op my bedkassie los voordat ek gaan slaap. My duim mik na die reject call-knoppie, maar dan vang my oë die naam op die skerm: Nicole. Nicole? My girl. As ek dooddruk, sal sy my hel gee. Waarom sal sy my nou bel? Ek sug weer.
“Hei, sexy! Wat vat jy so lank om te antwoord?” Soos ek haar hoë stem hoor, kom haar beeld voor my op. Lang blonde hare, mooi lippe en blou oë wat so maklik met enige iemand kan flirt en terg... Dit maak my effens angstig. Dis daai stem wat sy gebruik as sy weet sy het iets verkeerd gedoen.
“Nicksie... sorry, girl. Ek...”
“Moenie my sê jy was nog besig om te slaap nie, Greg?”
“Of course, ja. Ek slaap altyd totdat Ekk-0... Uh, ek bedoel Eckardt my kom wakker maak na sy oggenddraf. Hy sal seker nou-nou hier wees.”
“Eckardt? Hoe gaan dit met hom?” Die vraag maak my ongemaklik regop sit in my bed. Ek het nog nooit vir Nicole gesê nie, en sal tien teen een nooit nie, maar ek like dit nie hoe gereeld sy oor Eckardt vra nie. Oukei, miskien is ek besig om simpel te wees, maar ek kan nie help dat daar iets binne-in my kriewel nie. As dit nie vir daai aand in Jeffrey’s was nie, sou ek nie so worried oor Eckardt gewees het nie.
“Los tog nou eers vir Eckardt,” sê ek vinnig. “Hoe lyk dinge in Jozi?” Daar is ‘n oomblik van stilte.
“Ek mis jou, Greg.” My wenkbroue sak. Ja, sy het definitief iets gedoen wat sy nie moes nie. Ek kan haar nie rêrig blameer nie, ek’s nie veel beter nie. Die dinge wat ek al gedoen het...
Sy gaan aan om my van haar droom te vertel, waar ons in die middel van die aand in hulle swembad gesoen het.
“Toe het iemand die swembadligte aangesit. My ouers was bleek geskrik! Maar van die ander mense het handegeklap en gesê ‘Dis mooi as jongmense verlief is.’”
Ons lag lekker. Dan val daar ‘n stilte. Verlief...?
Iewers in die agtergrond hoor ek ‘n deur. Haar ma roep haar.
“Ek ko-o-om!” antwoord sy. Toe terug op die sel. Sag. “Greg, die ding tussen ons... dink jy dit kan werk?”
Ongemak. Ek het die selfde vraag. Ek het dit probeer wegdink, maar ek kan nie help maar dink dat Jeffreysbaai my my ware gevoelens laat besef het nie.
En wie weet wat sy in Johannesburg aanvang? Ek is al die pad hier in ‘n godverlate skool in die Drakensberge. Ek is mos nie stupid nie. Ek weet hoe dinge werk: een ou, een meisie, honderde kilometers tussenin, maande wat jy mekaar nie sien nie... en ‘n hoop van ander, uitheemse gevoelens wat my elke nou en dan in die sy kom steek...
“Greg?”
“’Tuurlik, Nicole, jy weet mos dit sal uitwerk,” sê ek, maar nie eers ek is oortuig nie.
Daar is niks nog om te sê nie. Ons sê ons totsiens. Polyfilla.
Buite is dit al lig... Wat? Ek vat die selfoon weg van my oor om te sien hoe laat dit is. Dis al kwart oor sewe! Ek spring op en uit is ek by my koshuiskamer se deur. In die gang loop ek my byna kis teen iemand. Thomas-Jean. TJ noem ons hom.
“Jy’s bietjie laat, bru.”
“Ek weet. Dis Eckardt, die goorgat – hy't my nie kom wakker maak nie. Ek moet vinnig maak, sien jou nou, TJ!”
Almal in die gange is al aangetrek: skoolunivorms. Bo die skoolwapen staan die skool se naam op die baadjies. Lawson Kollege. Onder die wapen, die skool se leuse: Lux hominum vita, of so kak.
Ek stoot deur die klomp seuns.
“Is jy nie aan diens by die graadagts nie?” vra een van die VRL’s. Flip. Ek het vergeet.
Nadat ek skoon en aangetrek is, stop ek vinnig by Eckardt se kamer. Klop-klop. Geen antwoord. Ek pluk die deur oop. Waar de hel is hy dan?
Ek ruk my selfoon uit. Kom tot by Eckardt se kontaknommer uit. Bel. Dan hoor ek die ringtone en my lyf raak koud. Dit kom uit Eckardt se kas. Ek maak dit oop en daar lê sy selfoon. Op die skerm flits die naam: G-4ce.
