AO3 News

Post Header

Published:
2023-08-31 01:15:12 UTC
Original:
OTW Election Statistics for 2023
Tags:

OTW Verkiesingsnuus Noudat die 2023-verkiesing verby is, is ons bly om ons kiesersdeelname-statistiek met u te deel! Vir die 2023-verkiesing het ons 'n totaal van 15 274 stemgeregtigde kiesers gehad. Hiervan het 4 247 kiesers gestem, wat 27,8% van die moontlike kiesers verteenwoordig. Ons kiesersdeelname is laer as dié van laasjaar, wat ’n deelname van 39,3% gehad het. Ons het ook ’n afname in die aantal stemme gesien, van 4 574 na 4 247, wat ’n afname van 7,1% verteenwoordig. Verkiesings is toegewy daaraan om aan te hou om ons stemgeregtigde lede te bereik, om hulle aan te moedig om in verkiesings te stem. Diegene wat tot die Raad van Direkteure verkies word, kan ’n belangrike invloed op die langtermyngesondheid van die OTW (Organisasie vir Transformerende Werke) se projekte hê en ons wil hê dat ons lede ’n sê daarin het. Vir diegene wat belangstel in die aantal stemme wat elke kandidaat ontvang het, neem asseblief kennis dat ons verkiesingsproses ontwerp is om ’n gelyke groep Raadslede te verkies om hulle toe te laat om goed saam te werk, daarom maak ons nie daardie inligting bekend nie. As ’n algemene reël maak ons ook nie die kandidaat ranglys bekend nie. Weereens, baie dankie aan elkeen wat aan elke fase van die verkiesing deelgeneem het! Ons hoop om u almal weer volgende jaar by die virtuele stembusse te sien.


Die OTW (Organisasie vir Transformerende Werke) is die nie-winsgewende voorsaat organisasie van verskeie projekte, insluitend AO3, Fanlore, Oope Deure, TWC, en OTW Regsvoorspraak. Ons is ‘n fan-bestuurde, volledig donasie-afhanklike organisasie beman deur vrywilligers. Vir meer inligting, besoek gerus die OTW webtuiste. Om meer te leer oor ons span van vrywillige vertalers wat hierdie nuusberig vertaal het, besoek die Vertaling bladsy.

Comment

Post Header

Published:
2023-08-15 00:54:51 UTC
Original:
Result of the 2023 Board Election
Tags:

OTW Verkiesingsnuus

Die Verkiesingskomitee wil graag al ons kandidate bedank vir hul harde werk in hierdie jaar se verkiesing. Dit is dan ook ’n voorreg om die resultate van die 2023 verkiesing bekend te maak.

Die volgende kandidate (in alfabetiese volgorde) is amptelik verkies om volle termyne (3 jaar) op die Raad van Direkteure te dien:

  • Anh Pham
  • Kathryn Soderholm
  • Qiao Chu

Soos voorheen aangedui het Heather McGuire voor die 2023-verkiesing uit haar posisie op die Raad getree. Direkteur Natalia Gruber het in Julie 2023 ook uitgetree. Ons is dankbaar vir Heather en Natalia se diens en bedank hulle vir hul werk en toewyding.

Om die leë setels te vul, is die oorblywende kandidate, Jennifer Haynes en Zixin Zhang (in alfabetiese volgorde), verkies om by die Raad van Direkteure aan te sluit. Hulle sal vanaf 1 Oktober 2023 die res van Heather en Natalia se termyne (twee jaar) dien. Dit sal verseker dat ons voortgaan om tot die volgende verkiesing ’n volle Raad te hê.

Die Raadsoordrag begin formeel op 1 Oktober. Ons wens die nuwe lede van die Raad sterkte toe met hul termyn.

Hiermee kom die verkiesingseisoen dan tot ’n einde. Dankie aan almal wat betrokke geraak het deur die nuus te versprei, aan die kandidate vrae te vra en natuurlik ook deur te stem! Ons sien uit daarna om u almal volgende jaar weer te sien.

15 August 2023: Die teks is aangepas om dit duidelik te maak dat alle Direkteure in alfabetiese volgorde genoem is.


Die OTW (Organisasie vir Transformerende Werke) is die nie-winsgewende ouer-organisasie van verskeie projekte, insluitend AO3, Fanlore, Oop Deure, TWC, en OTW Regsvoorspraak. Ons is ‘n fan-bestuurde, volledig donasie-afhanklike organisasie beman deur vrywilligers. Vir meer inligting, besoek gerus die OTW webtuiste. Om meer te leer oor ons span van vrywillige vertalers, wat hierdie nuusberig vertaal het, besoek die Vertalingsblad.

Comment

Post Header

Published:
2023-08-11 02:24:27 UTC
Original:
2023 OTW Board Voting Now Open!
Tags:

OTW Verkiesingsnuus

Die verkiesing het begin!

Elke OTW (Organisasie vir Transformerende Werke) lid wat tussen 1 Julie 2022 en 30 Junie 2023 aangesluit het behoort teen die tyd 'n stembrief te hê. As u nie een ontvang het nie, gaan kyk asseblief eers in u strooipos leêrgids en kontak ons dan deur ons kontak vorm. Neem asseblief kennis dat u donasie kwitansie in Amerikaanse Oostelike Tyd gedateer sal wees, so as u donasie na 19:59 op 30 Junie 2023 op die kwitansie aangedui is, sal u nie geregtig wees om te stem nie. As u onseker is of u donasie voor die sperdatum gemaak is, kontak asseblief ons Ontwikkeling en Lidmaatskapkomitee deur die kontak vorm op ons webtuiste te gebruik en “Is my membership current/Am I eligible to vote?” (“Is my lidmaatskap op datum/Is ek geregtig om te stem?”) te kies.

Die verkiesing sal plaasvind tot 14 Augustus 2023, 23:59 UTC; sien hierdie tydsone omskakelaar om uit te vind hoe laat dit vir u sal wees.

Sodra u gestem het kan u aanbeweeg na Twitter of Tumblr en die hutsmerk #OTWE23 gebruik om ander kiesers te ontmoet en met hulle te gesêls. Ons sal graag van u wil hoor!


Die OTW (Organisasie vir Transformerende Werke) is die nie-winsgewende ouer-organisasie van verskeie projekte, insluitend AO3, Fanlore, Oop Deure, TWC, en OTW Regsvoorspraak. Ons is ‘n fan-bestuurde, volledig donasie-afhanklike organisasie beman deur vrywilligers. Vir meer inligting, besoek gerus die OTW webtuiste. Om meer te leer oor ons span van vrywillige vertalers, wat hierdie nuusberig vertaal het, besoek die Vertalingsblad.

Comment

Post Header

Published:
2023-08-08 00:09:36 UTC
Original:
Withdrawal of Candidate Audrey R.
Tags:

OTW Verkiesingsnuus

Effektief 25 Julie het Audrey R. haar kandidaatskap vir die 2023 Raadsverkiesing onttrek.

Die Verkiesingskomitee wens Audrey R. die beste toe.

Comment

Post Header

Published:
2023-07-30 15:06:51 UTC
Original:
2023 Voters - Check Your Email for Voting Instructions
Tags:

OTW Verkiesingsnuus Teen hierdie tyd moes alle stemgeregtigde lede van die OTW (Organisasie vir Transformerende Werke) 'n e-pos ontvang het met 'n skakel na die steminstruksies vir 2023. Die onderwerp was "Voting Instructions for Organization for Transformative Works (OTW) Board Election" ("Steminstruksies vir die Verkiesing van die Organisasie vir Transformerende Werke (OTW) se Raad"). Let daarop dat enigiemand wat nie hierdie e-pos ontvang het nie, vanjaar nie op die kieserslys is nie en dus nie 'n stembrief sal ontvang nie. Die e-pos oor stem-inligting bevat 'n skakel na 'n toetsweergawe van die stembrief. Volg asseblief die skakel om seker te maak dat die bladsy korrek vertoon en dat die kandidate sigbaar is. Indien nie, maak seker dat u nie JavaScript blok van ajax.googleapis.com en/of bootstrapcdn.com nie. As u 'n OTW-lid is en nie hierdie e-pos ontvang het nie, doen asseblief die volgende:

  1. Kyk na u strooipos.
    • As u Gmail gebruik, soek deur u Sosiale oortjie.
    • As die e-pos as strooipos gemerk is, ontmerk dit. Andersins sal u nie u stembrief ontvang nie aangesien dit ook in u strooipos sal beland.
  2. Indien daar nie 'n e-pos is nie, kyk na die datum op u skenkingskwitansie.
    • Om in hierdie verkiesing te stem moet u kwitansie tussen 1 Julie 2022 en 30 Junie 2023 gedateer wees, insluitende beide datums.
    • Indien u per tjek betaal het word u lidmaatskap uitgewerk volgens die aankomsdatum van die tjek. Let daarop dat u skenkingsbewys in Amerikaanse Oostelike Tyd gedateer word. Indien u donasie na 19:59 op 30 Junie 2023 gemerk word, sal u nie stemreg hê nie. As u nie seker is of u donasie voor die sperdatum gemaak is nie, kontak ons Ontwikkeling en Lidmaatskapkomitee deur "Is my membership current/Am I eligible to vote?" ("Is my lidmaatskap tans geldig/Kwalifiseer ek om te stem?") te selekteer op die kontakvorm op ons webtuiste.
  3. Indien u donasie gedurende die geskikte tydperk gemaak is, maak seker dat u die blokkie gemerk het om lid te word. Lidmaatskap is vrywillig vir diegene wat minstens VS$10 skenk; slegs lede kan stem.
  4. Indien u wel lid geword het, maak seker dat u geen e-posse van die OTW af as strooipos gemerk het nie, en nie gekies het om nie OTW-e-posse—of laas jaar se stembrief— te ontvang nie. As u dit wel gedoen het en hierdie jaar wil stem, moet u stap 5 hieronder volg.
  5. Indien u gedurende die kwalifiserende periode minstens VS$10 geskenk het en u die blokkie gemerk het om 'n lid te word, moet u asseblief die Verkiesings-Kontakvorm voltooi en die onderwerp "Is my membership current/Am I eligible to vote?" ("Is my lidmaatskap tans geldig/Kwalifiseer ek om te stem?") kies. Maak seker dat u dieselfde e-pos adres gebruik wat u gebruik het toe u u donasie gemaak het.
    • Lidmaatskap het geen verband met of mens 'n gebruiker van Archive of Our Own – AO3 (Argief van Ons Eie) of Fanlore is nie. Moet asseblief nie u AO3- of Fanlore-gebruikersnaam gee nie. Ons sal nie weet aan wie daardie naam behoort nie, en ons wil ook nie weet nie.

Belangriker nog, as u e-pos met stem-inligting bons, as strooipos gemerk word, of as u aan die e-posse ontrek het, sal u nie 'n stembrief vir hierdie jaar se verkiesing ontvang nie en sal u dalk nie volgende jaar 'n stembrief kry nie. Net so, as een van hierdie dinge met verlede jaar se verkiesings e-pos gebeur het, sal u nie vanjaar 'n stembrief ontvang nie. As u dus vroeër aan OTW e-posse ontrek het of dit as strooipos gemerk het maar wil stem, voltooi die Verkiesings-Kontakvorm en kies die onderwerp "Is my membership current/Am I eligible to vote?" ("Is my lidmaatskap tans geldig/Kwalifiseer ek om te stem?")


Die OTW (Organisasie vir Transformerende Werke) is die nie-winsgewende ouer-organisasie van verskeie projekte, insluitend AO3, Fanlore, Oop Deure, TWC, en OTW Regsvoorspraak. Ons is ‘n fan-bestuurde, volledig donasie-afhanklike organisasie beman deur vrywilligers. Vir meer inligting, besoek gerus die OTW webtuiste. Om meer te leer oor ons span van vrywillige vertalers, wat hierdie nuusberig vertaal het, besoek die Vertalingsblad.

Comment

Post Header

Published:
2023-07-25 18:16:04 UTC
Original:
Ongoing DDoS attacks against AO3
Tags:

Vanaf ongeveer 12:00 UTC op 10 Julie 2023 tot 16:00 UTC op 11 Julie, was die Archive of Our Own – AO3 (Argief van Ons Eie) grootliks onbeskikbaar gewees as gevolg van 'n verspreide diensweerhouding-aanval (DDoS). Ons het verskeie tegniese veranderinge aangebring aan die opstel van die AO3 om hierdie bedreiging aan te vat.

Die aanvalle het nog nie opgehou nie, maar ons doen alles wat ons kan om AO3 aanlyn te hou met minimale versteuring. Ons weet nie wie vir hierdie aanvalle verantwoordelik is of die motivering daaragter nie. ’n Aanlyngroep het verantwoordelikheid aanvaar, maar daar is geen rede om hierdie eis te glo nie. Volgens verskeie kuberveiligheidskenners is die groep nie ’n betroubare bron van inligting nie en stel hulle ‘n wanindruk van beide hul affiliasie en hul motiewe. As u enige stellings van hierdie groep af sien, of van enigiemand anders wat beweer dat hulle weet wie verantwoordelik is, beveel ons aan om dit met ‘n knippie sout te neem. Verder doen ons 'n beroep op u om nie deel te neem aan haatlike retoriek teen enige groepe wat hulle na bewering verteenwoordig nie.

Ons het ons bes gedoen om gebruikers op hoogte te hou van die gebeure deur nuus te deel op sosiale media by AO3_Status Twitter en ao3org Tumblr. Ons weet egter dat nie almal daardie rekeninge volg of toegang het daartoe nie, so hier is wat u moet weet:

  • Data van AO3 is nie geraak nie. U hoef nie bekommerd te wees oor u wagwoord of private inligting nie. As u dit egter steeds wil doen, kan u by ons Algemene Vrae instruksies vind om u wagwoord te verander of uit te vind hoe om die e-posadres wat met u rekening verbind word te verander.
  • Ons het verskeie mitigering- en blokmetodes probeer en veranderinge aan instellings gebring om die aanval teë te werk. Dit het die webwerf met tussenposes aanlyn gebring, maar was nie genoeg om die aanval te stuit nie. Uiteindelik het ons Cloudflare se “Under Attack”-modus geïmplementeer as 'n tydelike en uiters effektiewe oplossing. Cloudflare is 'n diens wat ekstra sekuriteit tussen ons bedieners en die internet bied. Hierdie is nie bedoel om 'n permanente oplossing te wees nie. Alle inhoud bly op ons bedieners.
  • U sal dalk 'n Captcha sien wanneer u 'n AO3-bladsy besoek. Dit word gedoen sodat AO3 seker kan maak dat u 'n mens en nie 'n robot is nie. Ons weet dit is irriterend, en ons is jammer! Ons weet ook dat sommige blaaiers en ouer toestelle nie tans toegang tot AO3 het nie. Hierdie maatreëls is tydelik en sal heroorweeg word sodra die aanval gestaak word.
  • Benewens AO3, is beide die OTW (Organisasie vir Transfomerende Werke)-webwerf en ons skenkingsvorm (wat deur 'n derdeparty-diens aangebied word) ook geteiken. Ons werk daaraan om dié webwerwe ook aanlyn te bring, maar aangesien ons skenkings deur 'n derdepartydiens gevoer word, kan ons nie voorspel wanneer skenkers toegang daartoe sal kan kry nie.
  • Terwyl ons skenkingsvorm vanlyn af was, het 'n skelm kortliks probeer om die @AO3_Status-rekening op Twitter na te aap om onder valse voorwendsels geld van fans af te kry, maar hul rekening is nou opgeskort. Wees asseblief versigtig vir enige pogings om skenkings vir die OTW of sy projekte op hierdie tydstip te kry, aangesien ander swendelaars dalk aan die werk is. Ons sal slegs donasies kan aanvaar wanneer skenkers weer toegang kry tot die webwerf.
  • Vir eers het ons die Ondersteuning- en Terugvoervorm en die Beleidsvrae en Misbruikverslae-bladsy gedeaktiveer. Die laasgenoemde is veral geteiken met 'n groot toestroming van gemorspos as deel van die aanval. Dit is hoekom die vorm 'n nood sekuriteitswaarskuwing wys: "Sorry, you have been blocked" ("Jammer, u is geblok"). As u dit sien, moet asseblief nie bekommerd wees nie; u is nie eintlik geblok nie!
  • Ons het uitnodigingsversoeke afgeskakel vir nuwe AO3-rekeninge as 'n voorkomende maatreël teen spammers. As u reeds 'n uitnodiging het, kan u steeds dit gebruik om 'n rekening te skep. As u in die tou is vir 'n uitnodiging, sal dit 'n paar dae vat. Ons sal u op Twitter en Tumblr laat weet sodra ons weer begin uitnodigings stuur.
  • Wat kan u doen om te help? Hou aan om AO3 normaalweg te besoek. Kudos en boekmerk mekaar se werke soos u gewoonlik doen, publiseer nuwe werke en hoofstukke, en lewer baie kommentaar! As die webwerf 'n bietjie stadig laai, probeer net weer. Ons sal voortgaan om alles te doen wat ons kan om seker te maak dat AO3 so glad moontlik vir almal werk, maar dit sal moontlik elke nou en dan sukkel terwyl hierdie aanvalle voortduur.

Ons deaktiveer kommentaar op hierdie bloginskrywing omdat hierdie situasie steeds ontvou en al die fokus van ons span vrywilligers opneem, so ons kan nie op die oomblik kommentaar hier monitor of daarop antwoord nie.

Weet egter asseblief dat ons al die ondersteunende boodskappe en oulike gif's sien en waardeer wat u die afgelope paar dae in die antwoorde op ons plasings en tweets gestuur het. Ons is ongelooflik dankbaar vir u ondersteuning!

Opvolg op 16 Julie, 2023, 11:55 UTC: Die vermoë om 'n uitnodiging te versoek, die Tegniese Ondersteunings- en Terugvoervorm en die Beleidsvrae en Misbruiksverlae vorm is weer aanlyn.

Comment

Post Header

Published:
2023-07-12 20:54:53 UTC
Original:
2023 OTW Elections Candidates Announcement
Tags:

OTW Verkiesingsnuus

Kandidate Aankondiging

Die OTW (Organisasie vir Transformerende Werke) kondig graag die volgende kandidate vir die 2023 Verkiesing aan (in alfabetiese volgorde volgens voornaam):

  • Anh P.
  • Audrey R.
  • Emyn a.
  • Jennifer H.
  • Kathryn S.
  • Qiao C.
  • Zixin Z.

(26 Junie: Emyn a. het per aankondiging uit die stemming onttrek.)

(25 Julie: Audrey R. het per aankondiging uit die stemming onttrek.)

Kandidate se volle wettige name sal nie hierdie jaar openbaar bekendgemaak word tensy hulle aangestel of verkies word tot die Raad nie.

Soos voorheen aangekondig, tree Heather McGuire af uit haar posisie op die Raad van Direkteure vir persoonlike redes, so daar sal vier oop setels wees in hierdie jaar se verkiesing, een daarvan met 'n gedeeltelike termyn van twee jaar. Die kandidaat wie vierde plaas sal tot hierdie setel verkies word. Ons is dankbaar vir Heather se diens en bedank haar vir haar werk en toewyding.

Omdat ons vier setels om te vul en 6 kandidate het, sal die 2023 verkiesing bestry word – dit wil sê die lede van die OTW sal stem vir die kandidate wat die setels sal vul.

Die Verkiesingskomitee is opgewonde om die kandidate aan al die lede van OTW voor te stel! In hierdie berig is daar skakels na kort Biografieë en Platforms wat die kandidate geskryf het. Inligting oor die stemtydperk en hoe om te stem sal ook binnekort geplaas word.

Intussen is daar 'n tydlyn van verkiesingsgebeurtenisse hier beskikbaar vir u om na te verwys. Lees verder om meer te wete te kom oor ons kandidate en hoe u vrae vir hulle kan indien!

Platforms en Biografieë

Ons het elke kandidaat gevra om vir ons 'n biografie te gee wat hulle professionele en fannish ondervinding opsom. Hulle moes ook 'n Platform skryf oor hul doelwitte vir hul termyn op die Raad deur die volgende vrae te beantwoord:

  • Hoekom het u besluit om te staan vir verkiesing tot die Raad?
  • Watter vaardighede en/of ondervinding sal u na die Raad toe bring?
  • Kies een of twee doelwitte vir die OTW wat vir u belangrik is en waaraan u gedurende u termyn wil werk. Hoekom is hierdie doelwitte vir u van waarde? Hoe sal u saam met ander werk om die doelwitte te bereik?
  • Wat is u ervaring met die OTW se projekte en hoe sou u met die betrokke komitees saamwerk om hulle te ondersteun en te versterk? Probeer om 'n reeks projekte in te sluit, maar beklemtoon gerus die spesifieke projekte waarmee u ervaring het.
  • Hoe sou u u Raadswerk balanseer met ander rolle in die OTW, of hoe beplan u om u huidige rolle oor te gee om op Raadswerk te konsentreer?

U kan beide die kandidate se antwoorde op hierdie vrae en hulle biografieë lees deur die onderstaande skakels te volg.


Die OTW (Organisasie vir Transformerende Werke) is die nie-winsgewende voorsaat organisasie van verskeie projekte, insluitend AO3, Fanlore, Oope Deure, TWC, en OTW Regsvoorspraak. Ons is 'n fan-bestuurde, volledig donasi-afhanklike organisasie beman deur vrywilligers. Vir meer inligting, besoek gerus die OTW webtuiste. Om meer te leer oor ons span van vryvillige vertalers, wat hierdie nuusberig vertaal het, besoek die Vertaling bladsy.

Comment

Post Header

Published:
2023-06-26 14:59:57 UTC
Original:
Withdrawal of Candidate Emyn a.
Tags:

OTW Verkiesingsnuus

Effektief 23 Junie het Emyn a. hul kandidaatskap vir die 2023 Raadsverkiesing onttrek.

Die Verkiesingskomitee wens Emyn a. die beste toe.

Comment


Pages Navigation